Eenheid – Efesiërs 4:1-8
Ek druk julle dit op die hart, ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien: Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is ‘n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krysgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.”
As dit by geduld kom het ek iewers onder ‘n boom ver van die ry af gesit toe geduld uitgedeel is! My ongeduld, veral met mense is besig om ‘n klein bietjie te verbeter maar dit is nie maklik nie.
Daar is soveel pyn en onenigheid in ons wêreld dat dit moeilik is om altyd beskeie, vriendelik en geduldig te wees en veral om mekaar te verdra, maar dis wat die Here van ons vra. Dink net as elkeen mekaar in ag neem en eerder luister en verstaan in plaas van kritiseer, veroordeel en skinder of mekaar sleg maak by ander hoe gelukkig die wêreld sou wees. Die duiwel is slinks met sy leuens. Ons moet leer om hom te sien vir wat hy is: leuenaar en weghardloop van dit. Ons moet onsself instel op die waarheid wat Jesus ons leer: geduld, liefde, meegevoel, eerlikheid en daarin streef om iemand se omstandighede te verstaan deur te luister na hul kant van die storie.
As ons die moeite doen om verskillende mense en kulture te verstaan en hul te groet en na hul te luister en verstaan hoekom hulle doen wat hulle doen sal ons moontlik ‘n beter samelewing kan bou. Daar is soveel verskille, maar daar is ook ooreenkomste veral as hulle ook Jesus Christus as hul verlosser aanvaar het.
Ons moet die gawes wat die Here ons gegee het gebruik om Jesus se Naam uit te leef en sodoende mense nader aan hom trek instede van wegjaag. Bly fokus op die waarhede wat Jesus kom wys het en saai dit. Soms is die kleinste gebaar soos om ‘n vreemdeling te groet, al wat nodig is om vrede te betoon. Daai persoon gaan dalk deur ‘n donker tyd en jou groet en glimlag is dalk al wat hy/sy op daardie oomblik nodig het.