Liefde vir Mekaar
1 Johannes 3:11-17
Dìt is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê. Moenie soos Kain wees nie. Hy het aan die Bose behoort en het sy broer vermoor. En waarom het hy hom vermoor? Omdat sy eie dade sleg was en sy broer s’n reg. Broers, moenie verbaas wees as die wêreld julle haat nie. Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie. Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?
Wie is ek?
Ek is ‘n Godgeskape mens wat glo in die Vader, die Seun en die Heilige Gees; ‘n volger van Jesus.
Ek kla soms dat ek nie dieselfde kos more wil eet nie. “Hallo! Hoe ondankbaar is jy nie! Jy het ten minste genoeg kos vir more! Daar is miljoene kinders wat weke sonder kos gaan!” raas ‘n harde stem in my kop met my.
Ek kla soms omdat my maag nie meer gespierd is nie. “Verstaan jy dat jy ten minste ‘n goeie gesonde liggaam het? Dat jy meer as genoeg klere het om aan te trek? Dat jy ‘n huis met genoeg beddens en warm komberse het? Besef jy dat jy kla oor ‘n deel van jou liggaam wat jy kan oefen en wat bytendien perfek vir God is? Verstaan jy dat daar mense is wat nie eers arms of bene het nie?! Verstaan jy hoe ondankbaar jy op hierdie oomblik is?!” raas die stem weer.
Soms besef ek nie eers hoe baie ek kla nie. Dis iets waaraan ek moet werk en ‘n gemoed van dankbaarheid moet aanneem want ek is baie geseënd en ten spyte van my ondankbare en dankbare gesindhede bly God steeds my kies. Hy bly steeds lief vir my net soos ek is.
Ek dink nie ek weet wat dit is om iemand so onvoorwaardelik lief te hê nie. As ek met myself moes uitgaan het ek myself al lankal gelos oor my geite en verkeerde keuses van die verlede, maar nie God nie. Hy kies my steeds en meer as dit word sy eniggebore Seun gemartel omdat Hulle my liefhet.
Hoekom kla ek dan so? Dis tyd dat ek minder deur my eie-ek lens na myself kyk en deur Jesus se oë na myself kyk.
‘n Kamermaat in die koshuis op skool sê eendag vir my: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en jy moet jouself liefhê soos Jesus jou liefhet.”
Dit is ware liefde. Dis ook tyd dat ons moet besef dat ons onsself nie beter as ander ag nie, maar ook nie fout soek met onsself en onsself minderwaardig ag nie, want dis hoe Jesus ons liefhet. Hoe kan ons ook verwag dat iemand anders ons moet liefhê as ons onsself nie liefhet nie?
Ons is perfek in ons onperfektheid en moet dankbaar wees vir Sy genade en begin om sy voorbeeld te volg.